Woensdag 16 November 2016

mistig

mistig

laag oor die duine loei daar ‘n wind
hartseer soos die stem van ‘n kind
bring hy misgordyn wat alles omhein
verdwyn  duinetuin in vaal kombers

deurdringend roep tarentaal na kind
wat wegdwaal van haar nes onder bos
saggies blêr bokooitjie vir haar kroos
binne misgordyn sluip die kwade rond

daarom staan ek langs die diepblou see
my kop gerig op alles wat daar gebeur
siel sweef saam met naamgenoot in lug
geen misgordyne vir my kop – nie meer

helder breek die wete deur beneweling
digste mis word in helder lig versplinter
telkens breek sonstrale maar weer deur
om geduldig daarvoor te wag neem tyd


©Teárlach


Maandag 14 November 2016

woord-musiek

woord-musiek

woorde so mooi soos die golwe
suis saggies oor duinevelde
suis langsaam deur fynbos bioom
woorde wat troos in koel hartstog

geluide van skoon oseaan
reën melodieë stil trane
swewende trosende note
geluide meervoudig motet

reuke so vars soos seebriese
sny deur die vermufte vuilheid
suiwerend nuwe gedagtes
reuke wat saggies streel en heel

meeue sweef hoog bo die water
altyd sweef my siel saam in vlug
luisteryke oorwinnaars-lied
meeue dirigeer in c mineur

©Teárlach


Eerste volgende bundel



Gedagtes
Van
‘n
Man





Inhoudsopgawe
Gedigte oor:

1.        My land

2.      Liefde

3.      Die Natuur’

4.      Geestelik

5.       Sosiale Gewete








Voorwoord:


Gedagtes van ‘n Man, is gebore uit die vrug van die kreatiewe gees van die skrywer, wat eers op ‘n laat stadium in sy lewe sy hand op papier begin sit het. In sy eie stem kan die gedagtes wat in hierdie bundel uitgespreek word gesien word as:
super incudem percuties  (soos ‘n hamer op die aambeeld)

ka-tienk ka-tank
klink die klanke op
as die hamer die rooiwarm
yster ontmoet en hervorm
soos die vuurwarm staal
gevorm word terwyl
dit sag is in hitte
so vorm die
woorde
van
die digter
in beeldryke
metafore wat
rigting gee
aan ons
dink
en
doen
met die hart
se passie
en ons
straatdigters-brein

© Teàrlach
Waar die digter die sosiale gewete betree, is dit selfindrukke wat uiting vind in sy woorde, eerder as ‘n vingerwysing na sy medemens. Elke gedagte word in woordbeelde en metafore uitgebeeld om die leser te laat dink, en sy eie opinie te kan vorm oor die gedagtes van ‘n man.
ʼn Storiemaker……

Stil sit sy daar op die strand
onder Gordonsbaai se rand
Die wind vloei saggies deur haar 
blinkend hare en sagkens sif ʼn blaar
Mistig waai die brander skuim
ver oor die baai se ruim
Selfs die diepste hengelaar
voor op die rif staan klaar
Geplant en diep in gees
sit sy die beelde en lees
Onbewus vorm die gang
die storie reeds vas gevang
Waar waai haar skimme heen?
Ver.., ver oor die see en reën
vaar jy steeds aan boord
ou seemans taal en woord
Vorm die storie vars in bries
tot skemer jaag die vries
Tot latere gedagtes wel
in frases uit sal swel…


©Teárlach
(Foto met toestemming van Volegov)


spring gety

sonder water is die see
ver blink lê die oop sand
rotse ontbloot met hul geheime
see anamone skulpdiere en plante
verstrooi oor die blink plavei
byna geen golwe beweeg
totdat die bodem bar lê
vreemd en uitgeteer
skoon opgedroog
dan draai gety
stadig verhaas tempo
golwe word dringend hoër
tot malse klotsende cabernet
verby hoogwater merke
spring hoog witperde
bo-oor hoogste
duin
bo
alles
draai
‘n
meeu


©Teárlach


kejaten - boskoors

ligvoet stap ek in die sand
letaba rivier se droë bedding
geweer aan sy band oor my skouer
bruin klere en misgevryfde vel
rooibokmis fyn gevryf
vervang mens-reuke
so stap ek en hy
tot tussen trop
rooibokke
sak ons
op grond
en soek regte
bokkie uit
klap skoot dan
sak hy net daar neer
geen gekwes of bloedspoor
net daar word hy gevlek
en op skouer gelaai
nooit gemors
net vir pot
vandag
skiet
ek
met
my
lens
en
kan
net
maar
verlang
na vars lewer
op kole in die bos


©Teárlach


boeta sy’s ‘n perskeblom

kon ons maar haar geur bepaal
sou sy ook rosevy van geur wees
huppel – trippelstappie op strand
uitbundige lewenslus vergestalt

besing kan ek haar skoonheid
maar dan sou dit dalk alles bederf
liewers in stilte geniet wat geskep is
om te geniet met die oog sonder sonde

bedink ek soms hierdie gedagtes
hoekom is mooi so aantreklik
mooi is tog nie vir almal mooi
geniet maar jou mooi ou vriend

lente-bloeisels aan perskebome
doudruppels op blare van bome
geur van katjiepiering  blomme
vars soutreuk van ‘n wilde see

mooi is vir jou gegee op skinkbord
moet dit nie wegwys of ignoreer
misbruik of dit dalk verhandel
geniet net want dit voed die siel


©Teárlach


glashuisige oordeel

in glashuise woon daar mense van vlees en bloed
min van hulle het werklik klippe om te gooi
meeste geniet die voorreg om daar te lewe
ver onder op die vlakte kyk ek op na hul
en dink by myself – hulle is baie ryk
hulle is seker baie onvriendelik
hulle dink net aan hulself
hulle sien my nie raak
hulle moet sleg wees
hoe erg om oordeel
oor myself te
spreek
sien
hul
net
as
mense


©Teárlach


deining

soos golwe loop die windjie se spoor
suisend en ruisend deur duine-gras

vrede in rustige groeiende plante-prag
ondergrond is klam en moet seisoen dra

voorbereid vir harde somertyd van son
winter-reën nou bykans verby gegaan

karige bestaan’s verhouding met binneland
maar ewige mooi vetplante-ryk van kleure

soos hierdie weskus-veld is my siel verryk
met vriendskap – minsaamheid – opregtheid

deinende bestaan van see-temperature en vis
geduldig wag alles en almal op regte tekens

tussen-in dwaal daar paar duwweltjies rond
wat nêrens inpas en spoedig geskoffel word


©Teárlach


afrikaner bul

waar lê jou krag afrikaner
uniek in jou bou en vlees
karakter gehoring
en met respek
mooiste bees
van almal
maar
so is ook
afrikaner self
eerlik raseg geheg
geen basterbloed vir hom
op sy beste soos hy is
boer syn droom
sonder spog
pa se kind
geligniet
tot in
sy
toon


©Teárlach


brandmerke

hewige stof staan op in die kraal
waar ons besig is om die nuwe jaar
se aanteel beeste te brand merk
deesdae is dit sommer baie vinnig
want ons gebruik koue brand
nie meer vuur rooi hitte nie
groot werk om die besige
klompie tollies en verse
in drukgang te kry
en so min trauma
as moontlik te
veroorsaak
groot stof
hang oor
die aarde
van oorloë
wat gebeur
en dreig
om te gebeur
baie min sal
oorleef sonder
om te val voor
die merk
van die
dier


©Teárlach

my God

Hy herbou die stad Jerusalem
maar Sy hart gaan uit na elke individuele sondaar
Hy is netso tuis in die hospitaal waar gebroke harte vergader
as tussen die sterre wat Hy name gee en dit tel as Sy skape
Hy beskerm  die eenvoudige en vernietig die trotse
lente met  reën en groeiende gras, is Sy werk
so ook die diereryk van die savanna
wilde diere en voëlspesies 
Hy geniet nie atletiese
krag bo die getroue
aanbidding van
Sy mense nie
daar is altyd
perfekte
balans
in
Sy
skepping


©Teárlach


uit mis

uit gryse mis kom daar lewe
meeue krys en kras van plesier
habitat versteur deur mens-beweging
tuis is hulle onder die misgordyn
afhanklik van son se hitte
beweeg hulle stadiger
maar tog grasieus
met eensame
meeu-gesang
groet hulle
sonstrale
wanneer
dit
deur
mis
breek


©Teárlach


wat krys die meeu

windstilte suis oor duineveld
waar voorheen stormgeweld
meeue heen en weer wou slinger
hang hulle nou in ekstase stil

met oë tollend om meer te sien
helder visie onder misgordyn
klaar beelde van ritmiese golwe
bokant stormagtige see weer op

ons vlieg maar word nooit moeg
sweef sonder om afgemat te word
maar jy mens – wanneer is jy klaar
wat baat jou malle jaagtog dan tog


©Teárlach


paladyn

my ridder van lank gelede
verguisde held van eergister
waar het geskiedenis jou verorber
sonder jou wete verraaier verklaar
hoe sou vandag se kinders weet
wat moes jy deurmaak
maklik om verlede
af te breek en uit
te verf sonder
begrip;
wie
sy
volkshelde
vergeet
bou
sy
toekoms
op
sand


©Teárlach


roepstem

beierende klokke
roep gelowiges op
klanke weergalm suiwer
teen duine-rante en oor die see
teen die strand-kant antwoord meeue
slangnekke ruk vervaard hulle koppe
asof ru uit son-slaap versteur
rustige deining in baai
weerspieël sonstrale
ver oor horison
staan ertsboot
hoog en leeg
met boeg
teen
die
wind
op
land
dobber
daar
ook
‘n
kind


©Teárlach
misrook

traag styg rokie op
lug is stil vandag
feitlik geen
beweging
ongewone reuk
hang in die vroeë bries
ver vanuit duineveld
sak hierdie rokie
waar rondloper
warm as toekrap
van gisteraand
se vuurtjie
slegs
miskoeke
kan so ruik
maak darem
koue nagluggie
meer werkbaar
vir hom wat
daarvan
moet
leef


©Teárlach


bloedson

die oggend het bloed in sy mond
donker-rooi amper pers strale
verf wolke in purper landskap
voorspooksels van ouds het beweer
dat daar binnekort oorlog sou kom
wanneer hierdie verskynsel gebeur
vir my eenvoudige verbeelding
lyk dit eerder soos boodskap
dat ons lankverwagte reën
nou op pad is – net aanhou
vra en bid – en dit sal kom
strome van kleur kan so maklik
verander in strome van reën
en dalk ook strome  seën;
staan vas en vra saam
sodat ons kan
voort-bestaan


©Teárlach


my meeu

by elke strand sweef daar meeue
maar op my strand is daar een
wat baie spesiaal rond swerf
soms kom roep hy my
terwyl ek nog aankom
soms verras hy my
op die strand
saam sweef
ons oor
duine
seë
sommer
van heinde
en verre lande
besoek ons saam
en glo my:
hy het
netso
sterk
verbeelding
as
ek


©Teárlach


treurlied

moenie oor my treur katrina
my liefde sal nie weifel
ek sal altyd daar wees
al is ons ver verwyder
jou hartseer
sal gou versag
in dankbare herinnering
van lewensvreugde
saam spandeer
my siel sweef
saam met jou
oor berge
en seë
geen
ander
sal ooit
weer
dieselfde
in my hart
kan bring
as net
jy
alleen


©Teárlach