My Kortverhale

Kortverhale


SKEEN SAAGMEULE IN DIE SOUTPANSBERG

Tom Skeen het saam met sy broer, Ockert Skeen gedurende 1929`n  klein saagmeule bedryf  op hul pa se plaas George, op  die walle van die Sandrivier in die kloof by Phareng Halte, net Suid van die huidige dorpie Waterpoort, gevestig.
                   
Phareng Halte 1928  (Sandriv links)

                                                                 Wyliespoort 1928
Daar is inheemse hout gesaag vir mynstutte en planke vir skrynwerk. Die onbegaanbaarheid van die kloof  en tekort aan geskikte hout, het  hul egter genoop om die meule  te verskuif na Hanglip Bosboustasie bokant Louis Trichardt dorpsgebied. Die belangrikste en swaarste item was natuurlik die stoomketel wat alles aangedryf het. Op `n dag het die Skeen broers toe die ketel begin skuif van sy staanplek langs die rivier na die spoorweg halte by Phareng. Die proses was pynlik stadig, en gevaarlik, want daar was geen moderne gereedskap beskikbaar nie. Die ketel word eers op blokke gelaai, dan tot in posisie gesleep met osse en donkies  en daarna   stelselmatig opgelig  met  wadomkragte (nie hidrolies) en dwarsleers om op die hoogte van die treintrok te kom.  Die verskuiwing  vanaf die plek langs die rivier tot by die spoor het  dae geneem.  Die stoomketel  het  ongeveer 7.5  ton geweeg.  Vir vandag se gereedskap geen probleem nie , maar in daardie dae  `n geweldige taak.  
Na die ketel  volgens  skatting  op die regte plek staangemaak is , word daar gewag vir die trein.  Toe die trein instoom verloor die kondukteur amper sy kop waar hy  by sy wa se venster uitkyk  om die drywer te beduie waar om stil te hou. As dit nie was vir `n benoude gil van een van die mense op die grond nie kon hy dood gewees het. Die geelkoper knoppe aan die treinwa  trek sulke geel strepe oor die stoomketel wiel. Die oplaai proses duur slegs so `n uur en twintig minute, danksy al die harde werk om die ketel vooraf op die regte hoogte te kry. Die trein kon ook nie te lank vertraag word nie! 
Die treinspoor het destyds nie deur Louis Trichardt geloop nie, die naaste stasie was Schoemansdal Stasie, hier moes die ketel  oorgeskuif word  na  `n platboom  ossewa (destyds bekend as ʼn Transportwa).  Nog steeds alles met die hande en trekdiere.  Vanaf  die stasie word die ketel  nou per ossewa  vervoer  na die posisie van die huidige  Bosbou stasie.  Op dieselfde manier moes alle swaar toerusting  vervoer  en gemonteer word. Net bokant waar die werkers kampong  vandag staan is die stoomketel  afgelaai  en verskuif sodat dit op n beton  fondasie  gemonteer  kon  word,  gereed  vir  die saagmeul wat reg langsaan opgerig is. Die aflaaiery en skuiwery  het `n volle dag geneem. Die hele proses om die meul in werking te stel  weke. Daar  moes ook   water  aangelê  word vir die ketel   ens. Die naaste stroompie water  was  so `n kilometer  Oos van die saagmeul,  `n sloot  is gegrawe en met sement en klippe uitgebou, om die water te lei tot by die meul. Die  voor  het  jare  later  nog  water  na die bosboustasie gelei.

                              
                                                                 Stoomketel

                                
                                                                     Vervoer

                                       
                                                                                           
                                                                 Saagmeule
         
Daar  was  geen  gemaakte  paaie  in die berg nie en moes  alle ontginning ook met die hand en spanne trekdiere gedoen  word. Blokke is gesleep na die saagmeul en  gesaagde hout is alles met ossewaens na die stasie vervoer . 
Inheemse  hout  gesaag  uit die  berg  is  verwerk  in planke vir meubelhout asook mynstutte. Daar is gepoog om die inheemse hout meer bekend te stel op die S.A. mark. Op die  stadium was daar maar min aangeplante hout wat gereed was vir saag in die Soutpansberg. Wat wel  beskikbaar was, was klein blokke  uitdunnings-hout. Die hout wat op daardie stadium in SA verbruik is , was meestal  ingevoerde hout.  `n Tipiese transaksie was dat iemand wat n huis wou bou,  gevra het  vir n kwotasie vir al die hout  wat  volgens plan benodig sou word vir  die  huis. Dit sou insluit die dakkappe, vloere, vensterrame, deurrame, deure ens. Skeen Saagmeule het alles op bestelling vervaardig en betyds by die kopers afgelewer.  
                                
Die berugte ekonomiese Depressie van daardie jare  het die Skeen Saagmeule  ook getref en die situasie het so versleg dat hulle  later nie meer kon kompeteer met die prys van ingevoerde hout nie. Die Skeen broers het toe nie ander keuse gehad as om die Saagmeule tot niet te maak nie.  Die regering se afskaffing van die goud standaard, en die gevolglike devaluasie van die SA pond het te laat gekom, want  blykbaar was die prys van  die  ingevoerde hout in Louis Trichardt skaars meer as wat  Skeen Saagmeule vir hul blokke aan die Departement van Bosbou moes betaal .
Aanhaling Beeld:“ Daarna het die Regering op 28 Desember 1932, 
kragtens die Wet op Buitengewone Finansieregulasies van 1931, 'n 
proklamasie uitreik. Suid-Afrika het finaal van die goudstandaard afgestap “
Departement van Bosbou het `n aanbod aan die Skeen broers gemaak om `n saagmeule op die posisie van die huidige Timbadola (ongeveer 27 kilometer Oos van Louis Trichardt) op te rig.  Die Skeen broers het  die dag lange rit na die moontlike posisie onderneem , om die moontlikheid daarvan te gaan ondersoek. Daar was nog geen infrastruktuur in die vorm van paaie en brûe nie, en hul het met groot moeite daar gekom. Na hul deeglik daaroor besin het is daar  besluit dat  hul  nie kans sien  daarvoor nie.   Daar was net nie geld beskikbaar vir hul om so `n groot onderneming aan te pak nie.
Die Skeen broers het toe later al die Skeen Saagmeule toerusting, verkoop aan Mnr  Eddie Kopp (Snr). Hy het die toerusting verskuif na Bergvliet Plantasie, naby Sabie, waar hy Hanglip Saagmeule opgerig  en bedryf  het tot in die sestiger jare toe dit deur Mondi oorgeneem is. 

                                         
Saamgestel en geskryf deur: T.J. Skeen en C.O. Skeen - Februarie 2011.



STORIES VAN DIE ZOUTPANSBERG.


Dawid vang ʼn Bosvark.

Toe ons nog klein seuntjies was, liggelowig en oë gevestig op die manne van die tyd, ore gesper om elke word wat gesê word, in te drink vir latere, soms hewige argumente oor die uitvoerbaarheid daarvan, het hierdie staaltjie in ons skoot geval:

Dawid en ou Jim, sy helper het soos gewoonlik, een skemer aand terug gestap huistoe. Hul volg die goed uitgetrapte voetpaadjie in die ruie bos, wat al kronkelend deur die plantasies en wilde bos loop, van die Bosbou Kantore, bo teen Witvlag se hange tot aan die voet van die berg. Saam met hul draf Dawid se langbeen terrier, Topsy. Sy was ʼn bekwame vark-uit-snuffelaar van faam tussen die Bosbouers. Terwyl hul so stil-stil die berg afstap, skraap Topsy die spoor van ʼn Bosvark en daar ontstaan ʼn hewige geblaf en gesnork skuins voor hul. Dawid wis dat as hy nie gou help nie kan die vark vir Topsy seermaak in die ruie bos. Hy en ou Jim hardloop toe so gou hul kan nader aan die geluide, maar versigtig oor die laaste tree, want Bosvark se kind is gevaarlik! Toe Dawid so deur die bosse kyk waar dinge warm is, sien hy die jong Bosvark Beer het sy stertkant teen ʼn digte boskasie wat teen die voet van ʼn jong Denneboom gegroei het ingetrek, en hou nou so vir Topsy, wat geniepsig hap na hom, in toom. Dawid sien dat dinge kan handuit ruk en kruip toe versigtig nader. Saggies en stilletjies bekruip hy die vark. Toe hy teenaan die Denneboom, aan die anderkant van die Bosvark kom, en binne reikafstand kom, gryp hy die vark se twee agterpote en trek die dierasie teen die stam van die boom op, sodat hy net op sy voorpote staan. Kyk Dawid was ʼn sterke derduiwel jong! Soos hy sy kortbroeke altyd gedra het, kon jy sien dat hy baie stewig gebou was. Die bo-arm spiere het ook altyd heel gemaklik by sy moue uitgebult. Dinge wat ons jongens nogal be-indruk het! In elk geval, toe Dawid nou die vark so half teen die Denneboom opgetrek het, kom ou Jim en slaan die vark dood met sy handbyltjie, wat hy ook altyd saam gedra het. Mensig, en het hul lekker ge-eet aan daai Bosvarkboude!


Titel: Die Van Den Berg Moord.
Weergawe:
Aantal woorde: 2765
Kere gelees: 1160
Datum gepubliseer: 01 Sep 2007



Ek het die geleentheid gehad om ʼn barbaarse oorlogsmisdaad deur ʼn Engelse Offisier en sy manne gepleeg op een van Generaal Beyers se Kommando lede gedurende die Anglo Boere-Oorlog, te ondersoek, en ek wil die opsomming graag hier te boek stel.
Die wyse waarop dit gebeur het word hieronder uitgespel.

Na die oorlog het ek van Europa af teruggekeer, en omdat ek tweetalig was, is ek ʼn pos, deur ʼn vriend, Abram Korsten, aangebied in die Milner Regering. Toe die Unie Van Suid Afrika gevorm was, was ek in diens by die Departement van Grondsake. Toe die Regering van Generaal Botha aan bewind gekom het, is daar ʼn kommissie aangestel om die kwessie te ondersoek van gronde wat by boere afgeneem was na die Anglo Boere
Oorlog deur die Engelse en aan hul ondersteuners gegee was.

Die lede van die kommissie was: Mr Wheelright, ʼn magistraat van Pietersburg as Voorsitter, Mr Granville Nicholson, Lid van die Volksraad vir Soutpansberg, en Mnr. Koos Grobler, voorheen Lid van die Tweede Volksraad van die Suid Afrikaanse Republiek en dan myself as Sekretaris.

Mr Nicholson was ʼn Afrikaner van Ierse afkoms en was getroud met ʼn nooi Marais, ʼn Afrikaanssprekende. Terwyl die kommissie se werk aan die gang was het Mr Nicholson ons vertel van die moord op ʼn siek Afrikaanse soldaat wat uit sy siekbed geneem was en voor sy vrou en kinders koelbloedig vermoor is deur hom te skiet. Mr Nicholson was ook as Grondsake Iinspekteur werksaam en terwyl hy op een van sy plaasbesoeke was het hy toevallig op hierdie verhaal afgekom. Hy was besig om oor die plaas: “Perdeplaas” (Die plaas was deur Generaal Piet Joubert, na die Magato Oorlog, ge-oogmerk vir die bewaring van perde en kommando lede omdat die klimaat gunstig daarvoor was bo op die berg) te beweeg toe hy ʼn eensame blanke vrou in die veld sien loop het met haar voorskoot waarin sy iets versamel het. Eers het hy gedink sy versamel vuurmaakhoutjies of mis vir haar kombuis, maar toe hy nader
Gaan het hy besef dat sy beendere daarin het. Mr Nicholson het haar toe genader en gevra wat sy besig is om te doen, en sy het toe aan hom gesê dat sy haar man se beendere bymekaarmaak wat versprei oor die plaas lê. Sy wou dit bymekaarmaak om hom te begrawe. Sy vertel toe vir hom van die tragiese wyse waarop haar man gesneuwel het.
Heelwat later het die lede van die Kommissie een aand op ʼn plek Oos van die plaas Perdeplaas gekampeer op hul besoek aan die gebied. Hul het daar gekampeer sodat die boere daar by hul kon
gaan getuienis lewer oor hul plase wat deur die Engelse onteien was. Een Sondag oggend het Mr Nicholson toe voorgestel dat die drie van hul die vrou gaan besoek op Perdeplaas. (Mnr. Nicholson, Mnr. Grobler en Melt Brink). Hul sou die sowat vier en ʼn half myl soontoe moes stap om haar te gaan vra wat werklik gebeur het tydens haar man se afsterwe.

Toe ons op die plaas Perdeplaas aankom het die weduwee ons hartlik verwelkom. Sy het dadelik Mnr Nicholson herken. Na ons haar gevra het, het sy toe met trane in haar oë vertel wat regtig gebeur het. Die volgende is haar verhaal:

Perdeplaas is ʼn okkupasie plaas aan my man, Mnr Coenraadt van Den Berg gegee,deur die Regering van die Suid Afrikaanse Republiek, na die Magato Oorlog. Ons het die plaas reeds ʼn aantal jare besit voor die Anglo Boere Oorlog begin het. My man was ʼn lid van die Kommando van die begin van die Boere Oorlog en na Generaal Beyers bevel oorgeneem het, het hy onder Generaal Beyers gedien. My man het Malaria opgedoen gedurende die oorlog en het gereeld aan geweldige koors gely. Hy het telkens huistoe gekom as hy te siek was, maar het elke keer weer terug gegaan kommando toe sodra hy beter was. Die laaste keer wat hy huistoe gekom het was hy baie siek, en Generaal Beyers het hom aangesê om tuis te bly tot hy gesond was, omdat hul nie na hom kon omsien op kommando as hy siek was nie. Na hy geruime tyd tuis was het
hy beter geword en kon begin rondloop. Op ʼn sekere dag het ʼn berede troep van Engelse soldate op die plaas aangekom. (Sy het in die rigting van Louis Trichardt gewys en gesê hul kon die troepe van ver sien aankom sodra hul oor ʼn sekere bult kom). Toe my man die troepe sien aankom het hy sy geweer en bandolier met ammunisie geneem en naby die huis op ʼn ruigbegroeide koppie, sowat drie honderd tree van die huis, gaan skuil. Voor hy weg is het hy met haar gereel dat as die Engelse haar vra waar haar man is, sy aan hul moes sê dat hy weg is in die veld. Sou sy aangeval word deur die Engelse, of benoud begin word, as hul haar dreig, moes sy op die hoek van die huis gaan staan en met haar kappie wuif. Hy sou dan probeer om hul weg te dryf deur op hul te skiet van die koppie af.

Toe die Engels soldate hier aankom het hul haar dadelik gevra waar haar man was en het sy hul presies vertel soos haar man haar voorgesê het. Hul was vergesel van ʼn afrikaanse man, ʼn sekere Mnr Devenish van Pietersburg, wat as tolk gedien het. Devenish was baie ontevrede met haar antwoord en het haar nie geglo nie. Toe begin die troepe haar vloek en sê dat haar man iewers naby die huis wegkruip en bang was om uit te kom. Die soldate het toe begin om haar hoenders en eende dood te maak en aan hul saals te hang op die perde. Sy het begin bang word dat hul haar sou aanrand en het toe na die hoek van die huis beweeg en met haar kappie gewaai vir haar man. Toe haar man die sein sien, het hy aangeneem dat sy toe in gevaar was en dadelik op die troepe begin skiet van die koppie af. Die troepe het na ʼn nabygeleë sloot, agter die huis, gehardloop om daar te skuil. Die tweede skoot het egter een van die soldate getref en hy het naby die huis bly lê. Na ʼn ruk het die soldate Mnr Devenish na haar man gestuur met ʼn wit vlag om te onderhandel. Hul het belowe dat , sou hy sy geweer oorhandig aan hulle, sal hul hom toelaat om by sy huis te bly en aan te gaan om te boer. Hul sou hom ook nie verkwalik omdat hy een van hul gewond het nie, omdat hul besef het dat hy steeds op kommando was toe dit gebeur het. Van den Berg, haar man het toe aan Devenish gesê dat hy aan die Engelse offisier kon gaan sê dat hy gewillig is om sy geweer oor te gee omdat hy besef dat hy te siek is om verder te veg.
Alles het toe soos ooreen gekom afgeloop en Mev van den Berg het nog aan elke soldaat ʼn koppie koffie gegee, voor hul vertrek het.
Die gewonde soldaat was egter te siek om te vervoer en die Engelse het hom netso in haar sorg agtergelaat. Sy het die gewonde versorg met wat sy gehad het, maar hy is ongelukkig na ʼn paar dae oorlede. Sy en haar man kon steeds nie verstaan waarom die Engelse die gewonde toe nooit kom haal het nie. Haar man het egter ʼn kis gemaak en hul het die oorledene begrawe. Aangesien hul die Engelse Offisier se versekering gehad het dat haar man op die plaas kon aanbly en aangaan met sy boerdery, was hul gladnie bekommerd nie. Haar man het egter kort daarna weer ernstig siek geword en was gedurig in die bed met die vreeslikste koors. Daar was geen medisyne bskikbaar nie en hul moes maar klaarkom met wat hul gehad het. Haar kinders was nog baie jonk, die oudste dogter maar skaars vyftien jaar oud. Dit was baie moeilik om so aan te hou met haar man se siekte. Hy het ook nie beter geword nie, net al hoe erger en was soms heeltemal deurmekaar van die koors.

Omtrent drie weke nadat die Engelse met die tolk Devenish daar weg is, het ʼn ander troep soldate oor dieselfde roete op Perdeplaas aangekom. Toe hul die troepe sien aankom het sy haar man gewaarsku, maar hy het gesê dat hul nie bekommerd moes wees nie want die Engelse Offisier wat daar was het hom mos toestemming gegee om aan te bly met die verklaring dat hul hom nie sou vervolg nie. Sy moes net die nuwe aankomelinge so inlig, dan sal daar niks gebeur nie.

Toe die tweede groep soldate egter by hul huis aankom op Perdeplaas, het hul dadelik die huis omsingel en ʼn dreigende houding ingeneem. Hul het toe ook ʼn klein muilwa saamgebring wat hul naby die huis staan gemaak het. Sy het aan ons gewys waar die wa gestaan het. Sy het dadelik aan hul houding opgemerk dat hierdie groep soldate iets anders in die mou voer. Die Offisier in bevel was baie bombasties en het heeltyd op die troepe geskreeu. Toe sy uitgaan en die Offisier haar sien, het hy haar gevra waar haar man was. Toe sy aan hom vertel dat haar man baie siek was en in die huis in sy bed lê van die koors, het die offisier brutaal beveel dat sy hom moes gaan haal of hul sal hom kom uithaal. Sy het toe baie verskrik ingegaan en haar man gaan sê wat die offisier gesê het. Haar man het haar toe gevra om aan die offisier te gaan sê dat die ander Engelse Offisier wat daar was hom toestemming gegee het om daar te bly en dat hy in elk geval sy wapen reeds oorhandig het.
Die ander offisier het hom mos ʼn gewaarborg dat hy nie vervolg sou word nie. Sy moes ook aan die offisier duidelik maak dat haar man te siek is om op te staan en uit te kom soos die beveel het. Sy het toe uitgegaan en dit so aan die offisier oorgedra. (Ek dink sy het nog gesê dat die offisier en een van sy manne kon so ʼn bietjie Afrikaans verstaan)

Die offisier was baie kwaad en wou na geen rede luister nie. Hy het toe gesê as haar man nie sou uitkom nie, dan sal hul hom kom uithaal. Sy vertel dat dit baie moeilik en hartseer was, maar sy het die bevel toe so aan haar man oorgedra. Sy het aan hom gesê dat hy liewer maar moes probeer opstaan en uitgaan. Sy het werklik gehoop dat hul net haar man wou sien en dan sou vertrek. Haar man het toe sy klere gevra en maar begin aantrek. Hy het nog die koue kompresse (lappe) om sy kop gehad toe hy so sukkelend opgestaan het. Hy het toe so sukkelend na die voorkamer beweeg en vir ʼn paar sekondes deur die venster gekyk na die Engelse offisier daar buite. “Dit was asof hy ʼn voorgevoel gehad het toe hy daar so staan met my en die kinders om hom.”
Hy het toe na haar gedraai en haar gevra om hom te groet want die Engelse het gekom om hom te skiet. Hy het toe vir haar en die kinders gesoen groet. Die Engelse Offisier het toe ingekom en haar man beveel om uit te gaan, hom by die deur uitgestamp. Sy het in stilte begin bid vir God om haar man se lewe te red.

Naby die voordeur was daar ʼn paar bloekombome met ʼn voetpaadjie wat daardeur gegaan het. Haar man het stadig met die voetpaadjie langs begin loop. Daar was omtrent vyftien Engelse soldate teenwoordig en toe haar man so entjie weg was het die offisier ʼn bevel gegee en al vyftien het op hom begin skiet. Hy het nie dadelik geval nie, nog enkele tree en toe inmekaargesak. Dit was ʼn aaklige oomblik vir haar en haar klein kindertjies om te aanskou.

Die Engelse soldate het toe haar en die kinders aangesê om ʼn paar goedjies wat hul sou nodig kry uit die huis te neem en op die muilwaentjie te gaan klim. Hul het haar nie ʼn kans gegee om eers na haar man se liggam te gaan kyk nie. Hulle het hom ook nie eers begrawe nie, net in ʼn ou ploegvoor toegekrap met ʼn bietjie sand.
Hul is net ʼn paar minute gegun om ʼn paar goedjies uit die huis te neem voor die huis aan die brand gesteek is.

Sy is later meegedeel dat die Britse Offisier se naam, Kaptein Taylor was. Hy het reeds die bynaam van “Bulaya Taylor” gehad, wat beteken om dood te maak, aangesien hy so ʼn geweldadige persoon was.

Sy en haar kinders is toe na die Konsentrasiekamp te Pietersburg geneem. Ons het haar gevra of sy die voorval by die owerhede aangemeld het. Sy het gesê dat sy het en dat sy ook met Devenish van Pietersburg geskakel het en dat hy dit ook aangemeld het. Devenish het bevestig dat haar man toestemming verleen was om aan te bly op sy plaas nadat hy sy geweer oorhandig het. Hy het geweet omdat hy die tolk was toe dit gebeur het.
Toe die saak deur die plaaslike landdros aangehoor was, het Mev van den Berg getuienis gelewer, maar die landdros het niks daaraan gedoen nie. Hy het glo net gesê dat haar man iets verkeerd moes gedoen het anders sou hy nie geskiet gewees het nie. Niks is ooit verder aan die saak gedoen nie en sy was ook nie in staat om iets daaraan te doen nie.

Mev van den Berg het toe vertel dat sy , na Vrede verklaar is en sy en die kinders toestemming verleen was om die konsentrasiekamp te verlaat, sy terug gekeer het na Perdeplaas. Die dag toe Mnr Nicholson haar op die plaas in die veld sien loop het, was sy besig om haar man se beendere bymekaar te maak om dit te begrawe. Daar was nie veel inwoners in daardie gebied nie roofdiere het die beendere wyd oor die area versprei. Sy het haar man se skedel omtrent vyf honderd tree van die plek waar hy geskiet was, gekry. Sy het dit herken aan sy tande. Sy voete nog so in sy stewels het sy ook daar naby gevind. Na sy die beendere wat sy kon kry bymekaar gemaak het het sy dit begrawe op die plek waar die Engelse hom geskiet het.

Daarna en vir baie jare was dit een van die terreine waar Geloftefees gehou was deur die omgewing se boere.

Na die oorlog het die kommissielede probeer uitvind wat van Kaptein Taylor geword het, maar sover hul kon vasstel is hy na Rhodesië om hom daar te vestig.
Mev van den Berg het weer daarna getrou met ʼn Mnr Grobbelaar en sy is op die ryp ouderdom van een honderd en drie jaar oorlede. Van die kommissie lede het haar weer later besoek en haar twee opgeskote seuns gesien. Hul het toe ook ʼn foto van haar gestorwe man gesien. Hy was in lewe ʼn groot sterk man met ʼn swart baard.

Notas:

Bogenoemde verhaal het hom afgespeel in ʼn tyd waarin verskeie oorlogsmisdade gepleeg is onder beheer van Generaal Lord Kitchener en met uitvoering deur sy spesiaal gestigde eenheid, die : Bushveld Carbineers.
Die strooptog van boere lewens in die Soutpansberg het by Mnr van den Berg begin in Augustus 1901 en in Pretoria ge-eindig op 27 Februarie 1902 toe slegs twee offisiere deur die Engelse Regering van die dag vir hul misdade tereggestel is om ses uur die oggend.
Een daarvan, ʼn Australiër is later deur die media in ʼn video program opgehemel as ʼn “onskuldige slagoffer van die Engelse Regering”
Die storie van “Breaker Morant” in isolasie gesien klink vandag nog vir baie Australiërs na die waarheid.
Hedendaagse studies toon egter dat Lord Kitchener sy gesag misbruik het in die laaste fase van die oorlog en dat hy ook skuldig was aan vele meer as net hierdie saga. Daar is sonder tweifel baie boere krygsgevangenes en kommandos onder die witvlag vermoor. Dan praat ons nie eers van die onskuldige volksmoord op die boere krygers se vroue en kinders in die gedwonge konsentrasiekampe asook die vele vroue en kinders wat in afgeleë gebiede deur swartes wat deur Kitchener bewapen was vermoor is nie.
Dat hy instrumenteel was tot die feit dat moordenaars soos “Bulaya Taylor” skotvry daarvan afgekom het, is slegs een van die feite wat vandag steeds as aanklag staan teen die Britte. Van hierdie moorde is in howe besleg na die oorlog en die feit dat die Britse Regering in sekere gevalle skadevergoeding aan oorlewendes uitbetaal het is tot vandag toe in die media toegesmeer ter bevordering van sogenaamde volkseenheid. (Veral met Uniewording)



My Eerste Koedoebul.

Ek en Paul het baie vroeg die Wintersoggend die plaas Matoma binne gestap. Die sonnetjie was nog nie eens uit bokant die Oosterkim nie. Die lig het al gebreek en ons was koorsig om ʼn stukkie biltong in te palm. Die jare was maer en geldjie min. Altwee van ons kranige onderwysers wat nog die skoot hoog deurgehad het van die opvoedingsdroom. Daarom was so ʼn wegbreekgeleentheid vir ons soos manna uit die hemel. Ons besluit so met die instap in die bosse dat ons nie saam gaan stap nie en ek breek vroeg weg van Paul om na die Letabarivier se kant toe te beweeg, ver weg van sy roete wat hom deur die middel van die plaas sou neem met so ʼn winkelhaak roete terug na waar ek hom later sou ontmoet.
Die wonderlike voëlgeluide van die ontwakende bosveldbos en die skielike skrikbewegings, soms nuuskierig van die kleinwild, hasies, meerkatte en Duikers kan ek nog goed onthou. Soos die dag se stap vorm aanneem besef ek later dat die Koedoes wat ons kom soek het nie vandag in hierdie kamp is nie. Daar is slegs enkele plekke waar hul spore gelaat het, blare gevreet het en ʼn bietjie ou mis van sowat ʼn week gelede. Ek stuur toe maar so skuinsweg nader aan die rivierlyn hopende dat daar miskien darem een aan ons kant van die rivier kon gebly het. Lank gestap en later uitgeput soek ek ʼn koeltetjie onder ʼn ou groot Hardekoolboom met so ʼn almintige miershoop daarteen gebou, en sak dankbaar daar in die verskuilde koelte neer. Daar geniet ek my middag russie en word dit naderhand ʼn slapie. Salig onbewus van die dag se hitte wat stadigaan verby skuif, slaap ek die saligste slapie van die jaar.
Onverwags word ek wakker, en met my oë onmiddelik oop besef ek dat ek dopgehou word. So op my een sy en my kop teen die miershoop en die LeeMetford geweer in my elmboog, lê ek en kyk vir die mooiste Koedoebul wat skaars tien tree van my staan. Vier en vors staan hy daar en wakker draai sy ore om die geringste geluid wat gevaar kan aandui op te tel. Ek besef dat hy van my bewus is maar nie seker is waar ek my bevind nie. Nouja so ʼn geleentheid kry ʼn geleentheidsjagter van my onervare status nie aldag nie, en ek begin so stadig as moontlik die geweer optel in sy rigting, wetende dat die geringste geluid hom sal laat verdwyn. In my half onmoontlike posisie kry ek toe uiteindelik, na wat gevoel het na ʼn eeu se spanning die korrel netjies op sy knoppe gerig en was besig om die sneller versigtig af te trek, toe hy soos uit wegspringblokke uit sy spore opstyg en uit my sig verdwyn. Sonder om te lieg, dit was verskriklik! So ʼn kans wat ek misgun is om die perfekte skoot te skiet en die mooiste Koedoebul huistoe te bring! Alles verlore!
Terwyl ek nog so verdwaas daar sit-lê sien ek opeens beweging! Kan jy dit glo! Daar, net op dieselfde plek waar hy netnou gestaan het, staan daar weer ʼn Koedoebul! Hy het vir iets geskrik, ʼn sirkel gehardloop en terug gekom na dieselfde uitkykpunt van tevore. Nog steeds het hy my nie gesien nie, maar was nou eens so skrikkerig. Toe weer die proses van stadig oorhaal, die wapen rig, aanlê en skiet. Toe ek nou so mooi op sy flank korrel sien ek dat die bul regtig mooi is. Hy het sulke vol gedraaide horings gehad en hy was in die beste kondisie wat mens aan kon dink. My een brein-lob vertel my toe van die kilos biltong wat daar staan, en die ander kon nie ophou om die mooiste maaksel van God te bewonder nie.
Terwyl my vinger so huiwer op die sneller hoor ek hoe Paul uit die rugkant aangestap kom. Toe die bul sy ore lig en vertrek het hy ʼn oneindige spoor gelaat op my geheue van die Letsitele Laeveld, die Letabarivier en die mooiste wild wat daar leef.


Versoeking in jou donkerste uur
Weergawe: 1
Aantal woorde: 834
Kere gelees: 105
Datum gepubliseer: 13 Feb 2010


Job 3:1 Toe het Job begin praat en sy geboortedag vervloek.
Job 3:2 Hy het gesê:
Job 3:3 "Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie, die nag toe gesê is ‘n seuntjie het in die wêreld gekom.
Job 3:4 Daardie dag moes net donkerte gewees het; God daarbo moes dit nie eens raakgesien het nie; geen lig moes dié dag deurgebreek het nie.
Job 3:5 Donkerte en duisternis moes dit opgeëis het, wolke moes daaroor toegetrek het, sonsverduistering moes dit oorval het.
Job 3:6 Die donkerte moes daardie nag ingesluk het, dit moes nooit ingereken gewees het by die dae van die jaar nie, dit moes nooit bygevoeg gewees het by die berekening van die maande nie.
Job 3:7 "Ja, daardie nag moes niemand gebore gewees het nie, daar moes geen blydskap gewees het nie.
Job 3:8 Wie dae vervloek, moes ook dié dag vervloek het, hulle moes die Leviatan aangehits het om dit te vernietig.
Job 3:9 Die môrester moes verduister gewees het, hy moes tevergeefs gewag het op die lig en nooit die dag sien breek het nie,
Job 3:10 want hy het nie gekeer dat ek gebore word nie, my hierdie smart nie gespaar nie.
Job 3:11 Waarom het ek nie by my geboorte gesterf nie, net toe ek gebore is, my laaste asem uitgeblaas nie?
Job 3:12 Waarom was daar knieë om my op neer te sit, borste om my te voed?
Job 3:13 Anders kon ek nou stil in die graf gelê het, rustig in die dood geslaap het
Job 3:14 saam met konings en hulle raadgewers wat puinhope herbou het,
Job 3:15 of saam met vorste wat goud besit het, wat hulle huise vol silwer gemaak het.
Job 3:16 "Waarom was ek nie maar ‘n misgeboorte wat sonder meer begrawe is nie, ‘n doodgebore kind wat nooit die daglig gesien het nie?
Job 3:17 Dan sou ek daar gewees het waar die goddeloses nie meer kwaad stook nie, waar dié wat gedaan is, rus vind,
Job 3:18 waar die gevangenes saam rus geniet en nie meer die stem van die slawedrywer hoor nie;
Job 3:19 daar waar klein en groot saam is, waar die slaaf vry is van sy eienaar.
Job 3:20 "Waarom moes God dan die lewenslig gee aan ‘n man wat net swaar kry, waarom moes Hy lewe gee aan ‘n man wat so bitter ly,
Job 3:21 aan iemand wat tevergeefs hunker na die dood, wat daarna soek soos na ‘n verborge skat,
Job 3:22 wat maar te bly sou wees om in ‘n graf te kom en daaroor sou jubel?
Job 3:23 "Waarom die lewenslig gee aan ‘n man wat vir hom geen pad vorentoe sien nie, ‘n man vir wie God van alles afgesny het?
Job 3:24 "Ek kan nie eet van die pyn nie, ek kan nie ophou kreun nie.
Job 3:25 Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.
Job 3:26 Ek het geen rus en geen vrede nie, geen verposing nie, net angs."



Boodskap:

Job 3:1-10 - Vir sewe dae het Job se vriende in stilte by hom gewaak, sonder om empatie of vertroosting te bied. Ter self ter tyd het Satan hom heeltyd aangeval in sy gedagtes om hom te laat begin tweifel en met die oog daarop om Job se gedagtes so te stuur dat hy by die punt sal kom dat hy sy God sal verwens. Satan was blykbaar toegelaat om so ver te gaan, en ook om liggaamlike pyn en geestelike wroeging mee te bring.
Job, dien as menslike voorbeeld van Christus, se innerlike wroeging, beide in die tuin van Getsemane en aan die kruis, waar Hy die mees onmenslike lyding moes deurgaan, en dit kom veral as gevolg van Satan se aanvalle op Hom in Sy donkerste uur.
Daardie innerlike wroeging is die direkte oorsaak van die veranderinge wat daar in Job plaasvind, vanaf die totale oorgawe aan die Wil van God, tot die angstige ongeduld wat hier weerspieël word en ook in latere dele van die boek.
Die gelowige, wat besef dat slegs enkele druppels van hierdie bitter beker, baie erger is as enige menslike pyn wat ons kan ervaar, terwyl ons steeds die wonder soete liefde van Christus beleef, sal nie verbaas wees dat Job maar net `n passievolle mens was soos andere voor en na hom nie, maar sal verheug wees om te lees dat Job, alhoewel hy sy geboorte vervloek en verwens het, hy nie aan Satan se versoeking gelyk gegee het deur sy God te vervloek nie. Satan was hierdeur verkeerd bewys en kon nie bewys dat Job vals was in sy geloof in die Here God nie.
Job was sekerlik agterna skaam oor sy uitbarsting oor sy geboorte, maar hy het nooit sy God verloën nie. Daarom is hy sekerlik vandag saam met God.

Net soos Job word miljoene mense vandag nog in hul donkerste ure van wanhoop deur Satan bedrieg en versoek. Kom ons staan sterk, en klou vas aan ons enigste Verlosser, Vertrooster, Redder, Seun van God - Jesus Christus - die enigste Weg na die Vader.




“GROTE BOMEN! GROTE BOMEN!

ʼn Staaltjie uit my gryse verlede toe ek nog by die Stadsraad gewerk het as Senior Admin Beampte, Toerisme Bevorderings Beampte, Sekretaris van die Distriksontwikkelings Verenigging en al daai werkies wat die ander nie wou doen nie!
Op ʼn keer word ek getaak om ʼn groepie van sowat nege Nederlandse besoekers die omgewing te gaan wys. Die Stadraad se kombi word beskikbaar gestel, en ek moet dit bestuur en die groepie wat lede was van ʼn Nederlandse groep wat bekend was as: “Vrienden van den Springbok” die gebied gaan wys.
Met die inklim slag word ek daarop gewys dat hulle : “Nederlanders” ben, en beslis nie “Hollanders” nie! Regtig ʼn gawe klompie neefs en niggies, almal so omtrent net oor die vyftig jare oud. Toe ek by hul verneem wat hulle belangstel om te sien, besluit hulle dat ons gebiede moet besoek wat die gewone toeris nooit sal sien nie. Nouja op daardie stadium was ons hier in Suid Afrika nog gewikkel in ʼn hewige Bosoorlog en allerhande geweld situasies kon voorkom veral as onverskillig te ver van die hoofroetes afwyk.
In my “wysheid” besluit ek toe om hul ʼn gedeelte van die destydse “Tuisland” van Gazankulu te wys, en ons ry toe daar deur met ʼn flinke spoed, sodat niemand regtig in gevaar kon wees nie. By elke plek waar ons stadiger moes ry, as gevolg van die pad of verkeer, moes ek telkens net keer of die ou omies wil uitspring en die bevolking van naderby gaan afneem met hul telefoto lens kameras! Dit moes my seker al gewaarsku het, maar ek gloei in my rol as reisgids vir hierdie wonderlike groepie avontuurlustige toeriste!
Na Gazankulu, besluit ek om bietjie van die Zoutpansberg vir hul te gaan wys, en ry die Bosbou gebied by Entabeni binne, met die doel om hul die Voetslaanpad hut te gaan wys bo naby die ou Bosbou Stasie, in die omgewing van Matiwas Kop. Nou was die gort gaar en het die kameras gekliek en gerol om die asemrowende natuurskoon af te neem!
In my soeke na ʼn pad wat my darem nader aan ʼn uitkykpunt sou bring, hou ek nie die pad tekens fyn dop nie, en beland ons binne in ʼn ontginnings area! Terwyl ek nog so besluit of ek nou dadelik moet omdraai of wag vir die volgende sypad, gil die een tannietjie hier agter uit die kombi: “Grooten Boomen! Oeee! Grooten bomen!” En met die tweede gil plof die reuse Denneboom so skuins voor ons oor die pad neer! Net so dat ek darem tot stilstand kon kom! Toe die stof en los blare sak en die eerste stilte versigtig gebreek word, hoor ek net hoe die Ontginnings Voorman sy seine aan die span gee om dadelik op te hou saag!
Mens, maar was ek dankbaar vir die voorman se reaksie, toe hy sien wat gebeur het! Die kettingsae was skaars stil, of al wat Hollandse - Nederlandse omie is, peul by die bussie uit en is op pad na die naaste (kaal bolyf) boswerkers om met hul telefoto lens kameras die inheemse mense van naderby af te neem! Wat ʼn gemors! Veral gesien uit ʼn veiligheids oogpunt!
Na ek op my kombuis vlak, Tshi-Venda met die voorman onderhandel het, en daarin geslaag het om die nou heel kalm, maar baie ingenome “Nederlandse” omie-toeriste terug te kry in die toerbussie, kon ons omdraai en veilig vertrek.
Nodeloos om te sê, my toergees was toe effe op, en het ek maar die toertjie kort geknip. Die toeriste was egter erg aangedaan omdat ek so uit my pad gegaan het om die toer so uniek vir hul te maak, en ek glo baie van hulle weet vandag steeds nie in watter gevaar hul eintlik verkeer het nie. Vir my was dit ʼn goeie leerskool en het ek nooit weer daarna enige groep toegelaat om hul eie roete te ontwerp nie!


Die Vrou Wat Inmekaargetrek was!
Weergawe:
Aantal woorde: 1008
Kere gelees: 801
Datum gepubliseer: 03 Jun 2007



Dit is `n lieflike dag en die lug is belaai met die geure van die lente bloeisels van die baie vrugtebome wat oral in die vallei aan die voet van die berg groei. Die bye gons tussen die bloeisels van die bome deur en daar is ook die gegons van mense stemme wat met mekaar gesels op pad na die sinagoge. Daar heers `n stemming van afwagting en opgewondenheid.

Die kerk owerste, sy gesette lyf nat van die sweet, meer as gevolg van angstigheid as hitte van die lente dag, verwelkom Jesus kortaf en wys Hom waar Hy kan gaan staan om te kan deelneem aan die verrigtinge. Op die vasgestelde tyd beduie hy vir Hom met die hand dat Hy ,maar kan begin met Sy onderrig. Hoekom voel hy so kriewelrig wanneer die Meester daar is? Hoekom het Sy teenwoordigheid veroorsaak dat hy wat die kerk owerste is sommer bleek word van woede? Hierdie Jesus wat op die Sabbatsdag mense gesond maak? Hy sal Hom wys wie baas hier in die kerk is! Hy sal nie toelaat dat daar op die Sabbatsdag in sy kerk iemand gesond gemaak word nie!
Hy voel egter meer lomp as gewoonlik toe hy so oor die gemeente kyk en sien dat sy ook gekom het. Hoekom moes sy nou ook kom? Sy wat al agtien jaar lank so inmekaar gekrimp moet loop van die siekte wat niemand sovêr kon genees het nie! Daar staan sy – sy kan nie sit nie – haar rug is te krom, sy kan net op die grond sien. Hy kon seker nie regtig hoop dat sy vandag tuis sou bly nie! Sy wat elke sabbat getrou kom bid het, vir agtien jaar al! Hierdie vrou staan soos `n seer oog uit net waar sy kom!
Nog voor die kerk owerste hom vêrder kon verknies of homself sovêr te kry om tog maar na Jesus te luister met `n oop gemoed, gebeur die ergste! Die Meester sien die vrou met die kreupel rug raak, daar waar sy staan – inmekaar getrek – en Hy roep haar en vra dat sy na vore moet kom! Wat `n ramp! Die owerste se wange gleoi van verontwaardiging! Die vrou kom al skuifelend af in die gang van die Sinagoge. Net haar verdraaide skouers en die agterkant van haar kop is sigbaar soos sy sukkel om te beweeg!
Die Meester wag in stilte totdat sy Hom bereik, en toe met `n kalm maar duidelike stem, sê Hy : “Vrou, jy is genees van jou ongesteldheid.”
Niemand sê `n woord nie. Selfs nie die vrou nie. Sy staan nog net soos altyd geboë en gebroke. En toe, sonder om `n woord te sê, lê Jesus Sy hande op die benerige, kreupel rug en die vrou staan daar voor almal se oë skielik regop as of sy nooit enige gebrek gehad het nie!
Die verbaasde uitroepe van die omstanders weerklink in die saal; daar is `n groot lawaai van stemme, die mense staan op hul voete en loof die Here vir wat met die vrou gebeur het! Die vrou staan self nou regop en juig en jubel dit uit terwyl sy die Here loof!
Van die bietjie selfbeheersing wat die kerk owerste gehad het bly nou niks meer oor nie, en hy spring op en begin skreeu – maar nie om die Here te prys en loof nie – nee, hy begin skreeu : “Luister na my! Daar is ses dae waarop werk gedoen mag word. Kom op daardie dae om mense te genees – nie op die Sabbatsdag nie!”
Niemand hoor hom regtig nie, die gejubel van die skare is te groot – maar die Meester begin weer praat en skielik bly almal stil: “Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op die sabbatsdag sy os of esel van die krip los om hom te laat drink nie? Maar hierdie vrou, wat `n dogter van Abraham is, wat die Duiwel – dink daaraan – agtien jaar lank geketting gehad het, moes sy nie van hierdie ketting op die Sabbatsdag bevry kon word nie?”
Die owerste is platgeslaan – die Meester gaan aan met sy onderrig van die gemeente – hy sak terug in sy stoel, in die skande gesteek deur die logiese antwoord van die Meester!

Om die voorval uit die oog van die dwase owerste te sien, beteken nie dat ons hom wil verkleineer nie, maar miskien om ons almal vandag te laat besef in watter mate die ondervindinge wat ons met God het, andere in ons omgewing beïnvloed. Ons praat mos hier van iets wat baie meer werd is as wat ons `n Christelike getuienis sal noem. Ons moet leer om meer realisties na onsself en ons omgewing te kyk. Hoeveel keer het ek al gelees dat `n sekere medikus na die sieke se familie gekom het na die ernstige siekbed, en aan hul genoem het dat hul moet besef dat die sieke nie deur hom genees is nie, maar dat dit die werk van die Allerhoogste was?
As iets besonders gebeur – `n fisiese of verstandelike genesing, of `n onmoontlike probleem word opgelos – dan sal ons, as ons Hom liefgehad het, die Here loof en prys daarvoor. Maar daar sal ook die mense wees wat soos die bevooroordeelde owerste, so bang is dat hul as verkeerd uitgewys sal word, dat hulle teen ons sal uitvaar en ons sal beskuldig van liggelowigheid.
Ons is so gou om mense se getuienisse te bevraagteken en selfs te bespot as dramatisering en vals. Miskien moet ons almal liewer `n fyngevoeligheid teenoor ander mense aankweek. Die uitlewing van jou Godsdiens en die manier waarop jy Hom loof en prys kan veral vandag nog ander mense as vreemd en oordadig tref. Selfs vir hulle sal God mettertyd sorg, en ook aan hul die genade bewys om Hom te ontmoet. Dieselfde God wat die genesings werk gedoen het sal ook sorg dat die nodige sensitiwiteit daargestel word vir ons uitlewing van ons dankbaarheid teenoor Hom.
Moet dus nie seergemaak word deur die ongeloof en soms onverdraagsaamheid van andere nie. Loof die Here want Hy is goed!




Titel: Die Slang Met Twee Koppe!

Weergawe:
Aantal woorde: 565
Kere gelees: 1190
Datum gepubliseer: 09 May 2007



Toe ons nog vaalseuns van die Soutpansberg was, het ons dikwels op snaakse verskynsels in die natuur afgekom. Pa het g`n banghaar op sy kop gehad veral aangesien hy maar net drie of vier oorgehad het. Boonop was hy `n slangvanger van formaat! Hy het nie geskroom om `n Pofadder reg agter sy kop te gryp en dit dan in een of ander houer te plaas vir die wegstuur na Fitzimmons se slangplaas in Durban nie.
Op `n goeie dag het ons seuns naby die put gespeel in die omgewing van `n Piesangbos. Die put was die lewensaar van die huis ; daar het die Venda vrouens water kom skep vir die opstal. Hul het die water in "Ghoghogs" gedra en dan in die kombuis in `n groot kleipot gaan giet, waar die water lekker koel gebly het vir almal se gebruik.
So met ons spelery gewaar ons `n snaakse groen slang van so om en by die twee meter lank, wat regop staan en dans met twee koppe. Dit was by verre die snaakste wat ons nog gesien het en het ons dadelik na pa gehardloop met die tyding. Uit sy ervaring kon hy seker raai wat dit was en het hy gretig sy vangstok, vang-tang gegryp en saam met ons afgesit na die put om die slang te vang. Pa het juis kort van te vore die "slangtang" van hom gemaak. So `n regte hout tang met sulke plat bekke wat veronderstel was om die slang in `n wurggreep te kon vashou terwyl mens sy lyf dan in `n sak kon plaas. Die tang was nog net een keer van te vore op `n klein Boomslang beproef. Met die tang en al kom ons toe daar teen die gladde moddertrap af oppad na die put. Pa waarsku ons toe om bo-op die wal te bly staan terwyl hy probeer om die gevaarte te vang. Die wriemelende groen slang was steeds daar neffens die put besig met sy makabere dans. Pa trap so versigtig as moontlik die modder trappe af en kry dit reg om die slang aan sy een nek, reg onder die kop te vang. Met die slang vasgeknyp in die tang begin hy toe rittereer teen die gladde modder trappe op. Maar so met die tweede trap gly sy voet en hy gaan sit agteroor om sy ewewig te behou. Met die sitslag gaan die bekke van die tang halfoop en hier kom een van die slangkoppe met lyf en al teen die tang opgeseil!
Nou vir ons as twaalf en veertienjarige seuntjies was dit merkwaardig dat pa wat toe al sy vyftigs verby gesteek het, daardie laaste vyf trappe met een sprong kon oorkom! Met hout tang, slang met twee koppe en slegs die helfte van sy trots het hy die bult uitgespring en eers toe hy heelbo kom, besef dat hy diep in die moeilikheid was met die slang wat so al langs die bene van die tang oppad na hom toe was. Dadelik is die tang met slang en al weg gegooi en het ons almal teen `n stywe spoed die aftog geblaas. Met die nabetragting kon ons darem later uitpluis dat dit twee Groen Mambas was wat so saam gedans het seker om mekaar die hof te maak.
Wie die langste gely het aan skok, die slange of ons dapper slangvangers weet ek tot vandag nog nie.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking