Woensdag 05 April 2017

mooi

deur die mistige oggendlug
verskyn daar grys gestaltes
gestaltes van mense omring
met wasige auras van vaag

geluide versag deur mistigheid
sluip saggies deur vlae van grys
skerp geskreeu van meeu mistiek
gesmoor in parodie van geluide

iewers in hierdie toneel sweef
daar siele van mense soekend
swerwende gedagtes wat kerm
van geeste wat nie rusplek vind

op my duin sit ek rustig en kyk
waai hele hoofstukke oor my kop
van gebeure lank geleë wat vra
om antwoorde wat dit nie vind

spoedig waai seelug mistigheid
in wasige krulle weg oor duine
waaruit mooi getrou weer kom
genade spoel in dankbaarheid

©Teárlach




Saterdag 18 Maart 2017

deur ‘n ruit

met my vier-jaar-oë sien ek ver
tot anderkant die toekoms-ster
om my is daar blik en yster-kar
selfs glas laat alles grysend-bar

uit my perspektief sien ek jou staar
na meer as sestig jare gelede se dae
hoe jy gelyk het in oupa se armytrok
vuilgroen geverf vol duike maar hard

daar waar die damwal gebou was
waar die wal hom amper gesluk het
waar vandag nog water in vergaar
daar het jy so in sy trok moes wag

hene maar julle is ver in die verte
my oë wil-wil net verglaas vertraan
hoe ver is soveel jare dan as mens
dit moet bytel by my klein bestaan

©Teárlach



Saterdag 07 Januarie 2017

gedagtes

waar sou my gedagtes begin
waar sou dit eendag eindig
sou dit ewigheidswaarde bevat
het ek genoeg besin om te onthou
is dit dalk al te laat in lewensaand
‘n hele windstorm van gedagtes woed
dan vloei daar net ‘n paar nederige woorde
so onakkuraat en niksseggend uit my mond
meer dikwels ‘n hele katarsis van gevoel
dig – waar lê jou wortels
skryf – waar jou slot


©Teárlach