Woensdag 05 April 2017

mooi

deur die mistige oggendlug
verskyn daar grys gestaltes
gestaltes van mense omring
met wasige auras van vaag

geluide versag deur mistigheid
sluip saggies deur vlae van grys
skerp geskreeu van meeu mistiek
gesmoor in parodie van geluide

iewers in hierdie toneel sweef
daar siele van mense soekend
swerwende gedagtes wat kerm
van geeste wat nie rusplek vind

op my duin sit ek rustig en kyk
waai hele hoofstukke oor my kop
van gebeure lank geleë wat vra
om antwoorde wat dit nie vind

spoedig waai seelug mistigheid
in wasige krulle weg oor duine
waaruit mooi getrou weer kom
genade spoel in dankbaarheid

©Teárlach