Woensdag 15 April 2020


aaklig



die mis trek vroeg toe

eerste winterkoue aanvoelbaar

somer en hitte is vir my lekker

maar koue wind teister my

om te sê: dit is aaklig

is ‘n onder beklemtoning

koue wind en verkoue

gaan hand aan hand

lopende neus

hoes en nies

is aaklig

seker

die mees

beskrywende

enkele woord

in my taal

aaklig



©Teárlach

Maandag 10 Februarie 2020


gelukkig



wat maak jou gelukkig

die doudruppel wat vroeg

aan die blom stingel hang

die gedruis van golwe

wat jou dagbreek

wakker maak



wat maak jou gelukkig

fisant wat ‘n nuwe dag

oopbreek met sy gesang

die sonstrale by dagbreek

wat jou kamer venster

binne kom en verlig



wat maak jou gelukkig

die klokkie wals wat jou opbeur

of elizabeth serenade se sleur

dalk vrolike mars musiek

wat jou are laat druis

of net sagte melodie



wat maak jou gelukkig

kinderstemme wat vrolik

die huis in beweging bring

en hier en daar soms

die lag met ‘n traan

wat nooit vergaan



wat maak jou gelukkig

ou vriendskap wat herontdek

jou verlede weer in vreugde oopvlek

die glimlag van jou wederhelf

wat net julle regtig verstaan

of jou eerste handevat



wat maak jou gelukkig

daar is so baie om op te noem

dankbaarheid oor jy nog kan leef

om te kan lag oor jouself

om saam te kan doen

en om te versoen



©Teárlach

Dinsdag 28 Januarie 2020


lig in die lug



in die aanloop tot oggendstond

lê my duin in grys stilte gehul

gister se spore op die strand

weg gespoel deur hoogwater

meeue kuier heen en weer

op vroeë oggend briesie

hier agter my duin

kekkel eerste fisant

so lekker om son te sien

wanneer sy eerste skelm strale

die baai begin verf met oranje geel

sulke skelle strale wat skietend verkleur

hoe later hoe meer wit en helder

tot dat die son se magiese

groot oranje bal verskyn

en in skitter wit

verblink



©Teárlach

Woensdag 05 April 2017

mooi

deur die mistige oggendlug
verskyn daar grys gestaltes
gestaltes van mense omring
met wasige auras van vaag

geluide versag deur mistigheid
sluip saggies deur vlae van grys
skerp geskreeu van meeu mistiek
gesmoor in parodie van geluide

iewers in hierdie toneel sweef
daar siele van mense soekend
swerwende gedagtes wat kerm
van geeste wat nie rusplek vind

op my duin sit ek rustig en kyk
waai hele hoofstukke oor my kop
van gebeure lank geleë wat vra
om antwoorde wat dit nie vind

spoedig waai seelug mistigheid
in wasige krulle weg oor duine
waaruit mooi getrou weer kom
genade spoel in dankbaarheid

©Teárlach




Saterdag 18 Maart 2017

deur ‘n ruit

met my vier-jaar-oë sien ek ver
tot anderkant die toekoms-ster
om my is daar blik en yster-kar
selfs glas laat alles grysend-bar

uit my perspektief sien ek jou staar
na meer as sestig jare gelede se dae
hoe jy gelyk het in oupa se armytrok
vuilgroen geverf vol duike maar hard

daar waar die damwal gebou was
waar die wal hom amper gesluk het
waar vandag nog water in vergaar
daar het jy so in sy trok moes wag

hene maar julle is ver in die verte
my oë wil-wil net verglaas vertraan
hoe ver is soveel jare dan as mens
dit moet bytel by my klein bestaan

©Teárlach



Saterdag 07 Januarie 2017

gedagtes

waar sou my gedagtes begin
waar sou dit eendag eindig
sou dit ewigheidswaarde bevat
het ek genoeg besin om te onthou
is dit dalk al te laat in lewensaand
‘n hele windstorm van gedagtes woed
dan vloei daar net ‘n paar nederige woorde
so onakkuraat en niksseggend uit my mond
meer dikwels ‘n hele katarsis van gevoel
dig – waar lê jou wortels
skryf – waar jou slot


©Teárlach

Woensdag 16 November 2016

mistig

mistig

laag oor die duine loei daar ‘n wind
hartseer soos die stem van ‘n kind
bring hy misgordyn wat alles omhein
verdwyn  duinetuin in vaal kombers

deurdringend roep tarentaal na kind
wat wegdwaal van haar nes onder bos
saggies blêr bokooitjie vir haar kroos
binne misgordyn sluip die kwade rond

daarom staan ek langs die diepblou see
my kop gerig op alles wat daar gebeur
siel sweef saam met naamgenoot in lug
geen misgordyne vir my kop – nie meer

helder breek die wete deur beneweling
digste mis word in helder lig versplinter
telkens breek sonstrale maar weer deur
om geduldig daarvoor te wag neem tyd


©Teárlach